Inligting met betrekking tot Inkomstebelasting
Tot U Diens
Hierdie opgawe moet volledig ingevul word. Indien enige deel van die opgawe nie volledig ingevul is nie, sal dit verwerp word en teruggestuur word vir volledige voltooiing.
Die opgawe moet op die datum soos aangedui op die opgawe ingedien word.
Indien dit nie moontlik is om die opgawe binne die voorgeskrewe periode in te dien nie, moet u skriftelik uitstel vir die indiening daarvan versoek by u plaaslike SARS-kantoor of aansoek doen op die SARS webwerf, www.sars.gov.za.
Indien u reeds 'n opgawe ten opsigte van hierdie jaar van aanslag ingedien het, moet u hierdie opgawe terugstuur en daarop die inkomstebelastingverwysingsnommer en die SARS-kantoor waarheen u die opgawe gestuur het, aandui.
Indien daar onvoldoende spasie vir enige item op die opgawe is, moet u die tersaaklike besonderhede op 'n aparte skedule verstrek en by die opgawe aanheg.
Indien u 'n opgawe ontvang het, moet dit voltooi en teruggestuur word, selfs as die Maatskappy, Trust of Genootskap van Persone (hierna verwys as entiteit) dormant is of geen inkomste vir die jaar van aanslag gegenereer het nie.
Moenie enige betalings of korrespondensie, wat nie op hierdie opgawe betrekking het, daarby insluit nie.
In hierdie brosjure word breedvoerig uiteengesit watter inligting benodig word vir die korrekte voltooiing van die opgawe.
Waar inligting in die opgawe ondersteun word deur skedules en addisionele bylaes, moet dit ooreenkomstig die betrokke dele, soos in die opgawe aangedui, genommer word. Onderskrywings soos "Sien die aangehegte state" is nie aanvaarbaar nie.
Hierdie opgawe moet vergesel word van die volgende dokumente:
n Volledige inkomstestaat / administrasierekening / balansstaat;
Addisionele inligting soos aangevra in die opgawe van inkomste, op aparte eendersgenommerde skedules.
Enige beswaar teen 'n aanslag moet skriftelik aangeteken word, moet die gronde van beswaar volledig uiteensit en moet die SARS-kantoor wat op die aanslagkennisgewing aangedui word, binne 30 dae na die datum van aanslag bereik. Kennis moet geneem word van die Regulasies wat ingevolge artikels 107(A) en 107(B) van die Inkomstebelastingwet uitgevaardig is, om die hantering van besware en appèlle te reguleer (verwys na die SARS webwerf, www.sars.gov.za).
Indien u beswaar verwerp word of 'n verminderde aanslag uitgereik word as gevolg van die gedeeltelike toelating van u beswaar en u nie tevrede is met die verminderde aanslag nie, mag u appèlleer na die Spesiale Inkomstebelastinghof.
Enige kennisgewing van appèl moet die gronde waarop dit gebaseer word spesifiseer en moet die SARS-kantoor, wat op die opgawe aangedui word, binne 30 dae vanaf die datum van die kennisgewing van die verwerping / gedeeltelike verwerping van die beswaar, bereik.
Die verpligting om belasting en / of rente te betaal, word nie deur die aanteken van 'n beswaar of appèl opgehef nie.
Die vervaldatum van aanslag verskyn op enige aanslag wat aan die entiteit uitgereik word. 'n Tweede datum sal ook op die aanslagkennisgewing verskyn.
Indien 'n aanslag nie betaal word voor of op die tweede datum nie, sal rente gehef word teen die voorgeskrewe rentekoers op die uitstaande balans van sodanige belasting ten opsigte van elke voltooide maand (gereken vanaf die eerste vervaldatum) waartydens enige gedeelte van die belasting onbetaald gebly het.
Enige betaling wat ontvang word na die tweede datum, sal eerstens toegedeel word aan die uitstaande rentebedrag en slegs daarna aangewend word vir die uitstaande bedrag ten opsigte van belasting.
Dit is verpligtend vir 'n belastingpligtige om te verseker dat 'n akkurate en volledige openbaarmaking van alle vereiste gegewens en relevante besonderhede gemaak word in die belastingopgawe. Bykomend tot moontlike strafregtelike vervolging en die oplê van boetes, soos voorgeskryf in die Inkomstebelastingwet vir wanvoorstelling, versuim, weglating, of verskaffing van onjuiste inligting, kan addisionele aanslae (tesame met rente) gehef word na 'n periode van drie jaar vanaf die datum van die oorspronklike
aanslag. Om dit te vermy, en deur korrekte aanslae te hef, en om 'n meer doeltreffende inkomstebelastingstelsel mee te bring, is dit in almal se belang dat die inligting in die opgawe korrek en volledig is.
Merk die toepaslike tipe entiteit (indien 'n Genootskap van Persone, moet die blokkie vir "ander" gemerk word).
Totale inkomste is die algemene aanvaarde konsep van omset en verteenwoordig totale ontvangste en toevallings, ongeag of dit van 'n kapitale aard is of van 'n bron buite die Republiek, en sluit in donasies, toekennings en subsidies. Die bedrag wat as totale inkomste getoon word, moet die inkomste van alle besigheidsaktiwiteite wees en is gewoonlik dieselfde bedrag wat as totale inkomste in die jaarlikse finansiële state aangetoon word.
Waar die entiteit meer as een LBS, BTW en Arbeidsmakelaarsregistrasienommer het, moet die nommers van die grootste bedryf op die opgawe verstrek word en 'n skedule van die oorblywende nommers moet verstrek word. Indien daar geen registrasienommer betrokke is nie, moet 'n "0" in die regterkantste blok ingevul word.
Bankbesonderhede: Indien enige terugbetaling verskuldig is aan die entiteit en dit in 'n bankrekening betaal moet word, moet die vereiste besonderhede in die betrokke spasie verstrek word. Let daarop dat die taknommer van die bank verskaf moet word.
Let wel: Die bankrekening moet in die naam van die entiteit wees, geen terugbetalings sal in die bankrekening van 'n derde party inbetaal word nie.
Hierdie gedeelte moet volledig voltooi word en deur die wetlik aangestelde Openbare Amptenaar / Verteenwoordigende Belastingpligtige / Trustee onderteken word. Indien u nie 'n selfoon het nie, moet "Geen" ingevul word. U aandag word daarop gevestig dat die Openbare Amptenaar / Verteenwoordigende Belastingpligtige / Trustee verantwoordelik is vir die uitvoering van alle verpligtinge, en sal in die geval van die nie-nakoming van sodanige verpligtinge, in terme van die bepalings van die Wet verantwoordelik gehou word vir die oplegging van enige boete(s) waarvoor voorsiening gemaak word in die geval van versuim van sodanige verpligtinge.
INLIGTINGSBROSJURE
Aangesien baie belastingpligtiges van die dienste van rekenmeesters, boekhouers of belastingkonsultante gebruik maak en gevolglik nie hierdie brosjure benut nie, moet u aandui of u 'n inligtingsbrosjure vir die volgende jaar van aanslag benodig.
RENTE
Die rente-inkomste van die entiteit kan uit die volgende bestaan:
Rente vanaf enige rentedraende lening;
Rente op spaarrekenings, transmissierekenings en / of vaste deposito's asook dividende / rente op vaste termynaandele / deposito's gemaak op of na 1 Maart 1990;
Dividende verkry vanaf eiendomstrusts - hierdie dividende word as rente belas;
Die rente-gedeelte van 'n uitkering uit 'n kollektiewe beleggingskema.
n Skedule waarin die volgende besonderhede met betrekking tot alle rente wat die entiteit ontvang/toegeval het (insluitende rente van buitelandse bronne) moet by die opgawe aangeheg word:
Entiteit waarin geld belê is;
Tipe belegging;
Bedrag rente ontvang deur / toegeval aan die entiteit;
Bevestiging dat die bepalings van artikel 30 (b)(ii) van die Inkomstebelastingwet ten opsigte van beleggings nagekom is.
Huurinkomste
Toon die totale bedrag huurinkomste wat deur die entiteit ontvang is gedurende die jaar van aanslag aan en voorsien die volgende inligting:
Indien die entiteit enige huurooreenkoms aangegaan het gedurende hierdie jaar van aanslag, moet die volgende inligting voorsien word:
n Afskrif van die huurooreenkoms;
Dui aan of die partye tot die kontrak beskou kan word as "verbonde persone";
Dui aan of die huurinkomste beskou kan word as "markverwante huurinkomste";
Dui aan of die bate(s) voorheen aan die entiteit behoort het;
Voorsien volledige besonderhede van die huurooreenkoms indien paragraaf 10(d) van die Negende Bylae tot die Inkomstebelastingwet van toepassing is.
Indien enige onroerende eiendom deur die entiteit verhuur is gedurende die jaar van aanslag, moet die volgende addisionele inligting verstrek word:
Dui die oorspronklike doel met die aankoop van die eiendom aan;
Het die oorspronklike doel met die aankoop van die eiendom intussen verander? Indien "ja", voorsien besonderhede (wanneer, hoekom, hoe);
Is die eiendom verhuur aan die werkgewer van enige van die begunstigdes of verbonde persone tot die entiteit?
Indien 'n huurverlies gegenereer is, wat sal u as die vernaamste rede vir sodanige verlies beskou?
Indien 'n huurkontrak, waarvan die entiteit die huurder van die roerende eiendom was, beëindig is gedurende die jaar van aanslag, moet die volgende inligting voorsien word:
Voorsien besonderhede van die betrokke bate en dui aan hoe daarmee gehandel is by die beëindiging van die huurkontrak;
Is die huurpaaiemente voorheen toegelaat as 'n aftrekking by die berekening van die belasbare inkomste van die entiteit?
DONASIES / TOEKENNINGS / SUBSIDIES
Volle besonderhede ten opsigte van die bron en bedrag van elke donasie, toekenning en/of subsidie ontvang moet voorsien word.
HEFFINGS / LEDEGELD
Voorsien volle besonderhede.
ANDER INKOMSTE (DIENSTE GELEWER INGESLUIT)
Toon die totale bedrag wat deur die entiteit ontvang is vanuit enige ander bron(ne) van inkomste (vrygestelde inkomste en kapitale ontvangstes / toevallings uitgesluit).
Voorsien besonderhede van die aard en bedrae ontvang uit elke bron op 'n aparte skedule en heg by die opgawe aan.
Hierdie gedeelte sal, byvoorbeeld, eksekuteursfooie of soortgelyke fooie ontvang / toegeval, tantième ontvang / toegeval en honoraria ontvang / toegeval, insluit.
BRUTO OPBRENGS MET BESKIKKING OOR KAPITALE BATES
Indien daar oor enige kapitale bate/bates beskik is gedurende die jaar van aanslag, moet volle besonderhede op 'n aparte skedule voorsien word.
DORMANTE ENTITEITE
Indien die entiteit nog in besit is van bates en / of reserwes, moet balansstaat inligting voorsien word.
PROVINSIE WAAR HOOFAKTIWITEIT BEOEFEN WORD
Die kodes vir die onderskeie provinsies is
Hierdie gedeelte moet voltooi word indien die entiteit goedkeuring vir die uitreiking van belastingaftrekbare kwotasies in terme van artikel 18Avan die Inkomstebelastingwet vanaf SARS ontvang het.
Met die uitsondering van deel 8 wat slegs vir kantoorgebruik is moet al die ander afdelings nie spesifiek aangespreek, voltooi word soos in die opgawe aangedui.
